Zimmatic-blog

Spilpunt besproeiing teenoor drupbesproeiing: wat is die verskil en watter metode moet jy gebruik?

08 Mei 2020

Spilpunt besproeiing teenoor drupbesproeiing: wat is die verskil en watter metode moet jy gebruik?

Deur die eeue is verskillende metodes van besproeiing ontwikkel deur boere om te voldoen aan die unieke behoeftes van hulle lande. Daar is egter twee leidende metodes, naamlik drupbesproeiing en spilpunt besproeiing. Hierdie twee metodes is die mees gewilde opsies omdat hulle meer as 90% water-effektiwiteit waarborg. Die vraag is dan: watter metode moet jy op jou plaas gebruik?

Eerstens moet ons verstaan hoe hierdie twee metodes werk EN hoe hulle verskil van mekaar. In hierdie artikel gee ons vir jou ‘n kort oorsig van elke metode en verduidelik ons waarom spilpunt besproeiing jou eerste keuse moet wees as dit kom by die besluit rondom watter besproeiingsmetode jy in jou lande moet aanwend.

Ons opinie word ondersteun deur drie faktore: (1) aanvanklike beleggingskoste, (2) die vereistes van arbeid en (3) gemoedsrus.

Wat is drupbesproeiing?

Drupbesproeiing is ‘n vorm van besproeiing wat water en bemesting spaar deur die feit dat dit water laat drup op die wortels van gewasse. Die water drup of direk op die wortels of op die grondoppervlakte net bo die wortelnetwerk. Drupbesproeiing werk met ‘n netwerk van pype en kleppe wat water lei regoor ‘n boer se veld.

In die algemeen is drupbesproeiing ‘n goeie opsie vir klein velde of velde wat ‘n ongewone vorm het. Baie boere gebruik egter hierdie metode op groot, deursnee velde omdat hulle glo dat hierdie metode water optimaal gebruik. As gevolg van die feit dat die water oor ‘n veld gelei word deur middel van pype wat of onder die grond geplant is of bo op die grond lê, is daar geen kans dat die water kan verdamp nie.

Wat is spilpunt besproeiing?

Spilpunt besproeiing is ‘n gemeganiseerde besproeiingsisteem wat velde besproei in ‘n sirkelagtige patroon rondom ‘n middelpunt. Dit bestaan uit langwerpige pype wat deur torings ondersteun word wat uit ‘n sentrale punt kom. Al langs die langwerpige pype is daar sproeiers wat so gespasieer is dat hulle doeltreffende en akkurate wateraanwending moontlik maak. Soos die spilpunt om die sentrale kern draai, word gewasse natgelei.

Hierdie tipe besproeiingsisteem is ideaal vir gemiddelde en groot velde. Dit hou baie voordele vir boere in (soos ons later oor sal uitbrei) aangesien hierdie metode eenvormige wateraanwending moontlik maak, geen menslike arbeid verg nie en kan funksioneer met lae waterdruk.

Aanvanklike koste van die belegging

In die algemeen is dit goedkoper om spilpunte te koop en op ‘n plaas te installeer as drupbesproeiing. Opnames het gewys dat spilpunte tussen 20% en 50% goedkoper is om te koop as drupbesproeiing.

Wanneer dit by onderhoud kom is dit al bewys dat mens kan verwag om tussen 7% en 10% van die aanvanklike beleggingskoste te begroot vir die instandhouding van drupbesproeiing. Spilpunte se onderhoud kos ‘n fraksie hiervan. Slegs 2% van die aanvanklike beleggingskoste hoef begroot te word vir die onderhoud van spilpunte.

Die toekomstige waarde van die toerusting moet ook in ag geneem word. Spilpunte, veral spilpunte wat gegalvaniseer is soos die wat deur Zimmatic gemaak word, kan vir baie jare hou. Spilpunte werk in die algemeen vir bykans 25 jaar na hulle aankoop. Drupbesproeiing funksioneer egter net vir 10 tot 15 jaar na die aankoop daarvan.

Vir boere wat al vir generasies lank werksaam is op ‘n spesifieke plaas en beplan om hulle plaas te los vir hulle kinders, is spilpunte die ideale keuse, omdat dit ‘n langtermyn belegging is. Aangesien Zimmatic spilpunte duursaam en betroubaar is kan boere hierdie toerusting oorlaat aan hulle opvolgers. Soos reeds bo verduidelik het drupbesproeiing ‘n korter leeftyd en sal in alle waarskynlikheid nie meer in werking wees na ‘n boer sy plaas oorgee aan sy opvolger nie.

Spilpunte behou ook hulle waarde. Dit beteken dat as ‘n boer besluit om sy spilpunt te verkoop, hy steeds ‘n goeie prys daarvoor sal kry. Met drupbesproeiing sal jy waarskynlik vir iemand moet betaal om dit te kom verwyder as jy van dit ontslae wil raak!

Arbeidsvereistes

Drupbesproeiing word geken vir die hoeveelheid arbeid wat dit vereis om dit te onderhou. Om hierdie sisteme te installeer is verder ook uitdagend en benodig gespesialiseerde kennis. Wanneer die sisteem opgestel is, werk dit net op een veld en kan nie na ‘n ander veld oorgedra word om meer as een stuk land nat te lei nie. Drupbesproeiing vereis ook van boere om hulle hele veld te stap om seker te maak dat dit behoorlik werk en nie lek nie. Hierdie proses neem baie tyd en arbeid in beslag wat op ander, meer produktiewe wyses aangewend kon word. Daar bestaan hier en daar basiese outomatisering vir drupbesproeiing, maar in die algemeen is dit ‘n sisteem wat meestal met die hand bestuur word.

Spilpunte, aan die ander kant, vereis baie minder arbeid. Hulle is maklik om op te stel deur middel van standaard praktyke. Geen spesialiste word dus benodig hiervoor nie. Spilpunte kan verder maklik geskuif word, wat beteken dat een spilpunt verskillende velde kan bedien. Arbeiders hoef dus nie ingehuur te word om dit af te slaan en weer op te stel na die seisoen tot ‘n einde gekom het nie. Die boer en sy plaaswerkers kan dit sommer self doen in ‘n japtrap.

Wat spilpunte regtig onderskei is die feit dat hulle bestuur kan word sonder enige menslike arbeid wat tussenbeide hoef te tree. Deur gebruik te maak van die nuutste tegnologie in spilpunt monitering en beheer kan ‘n boer sy spilpunte bestuur vanaf enige plek in die wêreld deur middel van programme soos FieldNET. Met hierdie programme kan boere afstandbeheer gebruik om hulle spilpunte te bestuur. Boere hoef dus nie ‘n span plaaswerkers uit te stuur na die toerusting om dit aan en af te skakel nie. Dit kan sommer vanaf ‘n rekenaar of slimfoon gedoen word.

Gemoedsrus

Soos reeds verduidelik vereis drupbesproeiing konstante onderhoud en visuele inspeksies. Dit vereis ook ‘n sekere vlak van kundigheid van die persoon wat die sisteem bestuur, wat beteken dat ‘n boer soms ‘n spesialis moet inkry om die sisteem te werk. Die ander probleem is dat drupbesproeiingsisteme se pype soms onder die grond is. As ‘n probleem ontstaan kan dit tydrowend en duur wees om die sisteem uit te grawe om die herstelwerk te doen. Die grootste probleem is egter dat drupbesproeiing slegs werk indien die water wat dit ontvang van ‘n sekere kwaliteit is. Indien ‘n boer water wil herwin deur te gebruik vir besproeiing, sal hy addisionele toerusting moet koop om die water se kwaliteit te verhoog om met drupbesproeiingsisteme te werk. In lande wat droogtes in die gesig staar en daagliks met waterbeperkings worstel is hierdie problematies. Gevolglik sal ‘n boer nooit totale gemoedsrus kan hê met drupbesproeiing nie.

Spilpunte bied meer gemoedsrus. Hulle is maklik om te gebruik en baie min opleiding is nodig oor hoe om hulle op te stel of rond te skuif van veld-na-veld. Aangesien hulle met tegnologie oor ‘n afstand beheer kan word, kan moontlike probleme vinnig en doeltreffend opgespoor word. Programme soos FieldNET sal vir boere dadelik laat weet indien daar ‘n probleem op ‘n spilpunt is wat ingryping vereis. ‘n Spilpunt se siklus kan ook uitgevoer word sonder enige menslike arbeid wat nodig is om die proses te begin. Boere hoef ook nie so gereeld na hulle velde te gaan om visuele inspeksies te doen nie, aangesien die moderne sagteware monitering vereenvoudig.

Een van die grootste voordele van spilpunte is die feit dat hulle met afvalwater kan werk. Spilpunte is duursaam en sterk. Die gebruik van afvalwater sal nie die toerusting beskadig nie en boere hoef nie enige addisionele produkte te koop as hulle alternatiewe waterbronne wil benut nie. In gebiede waar water skaars is behoort hierdie die deurslaggewende oorweging te wees vir boere wat hulle waterverbruik wil verlaag.

Waar om spilpunte te bestel?

Zimmatic, ‘n trotse produk van Lindsay Africa, produseer besproeiingstoerusting wat die internasionale tendense stel. Hierdie produkte sluit onder meer spilpunte in. Die 9500P is die mees duursame en betroubare spilpunt in die Zimmatic-reeks. Deur ongekende krag te

kombineer met die nuutste tegnologie bied hierdie spilpunt vir boere ‘n geïntegreerde oplossing vir enige situasie.

Daar is verskeie kundige Zimmatic-handelaars regoor Afrika. Hierdie spesialiste kan vir jou help om vas te stel wat die behoeftes van jou plaas is en watter Zimmatic-produk die beste daardie probleme sal oplos. Indien jy die skuif wil maak en jou drupbesproeiingsisteem wil vervang met spilpunte, kontak jou naaste handelaar vandag nog. Klik ​hier​.